Rovic Leers
Cape Town +27(0)21 907-1700
Johannesburg +27(0)11 396-6200
Pietermaritzburg +27(0)33 346-2727

HTA vier die Hexvallei se 40ste blokkompetisie (2016-02-12)


Gevestigde Blok Wenners

Van links na regs:

Anton Viljoen (HTA Voorsitter) en ontvang trofee namens Mario Coetzee van Villion Farms (Nirvana) – 3de Plek Gevestigde Blokke

Pierre van Zyl – WK Beukes Boerdery – Wenner Gevestigde Blokke

Marno Bothma – De Vlei Boerdery (Matrooskloof) – 4de Plek Gevestigde Blokke

Kosie Meissenheimer – De Vlei Boerdery (Tevredenheid) – 5de Plek Gevestigde Blokke

Niel Anderson – BDE Plase (Pty) Ltd – De La Haye – 2de Plek Gevestigde Blokke

HTA vier die Hexvallei se 40ste blokkompetisie

Vanjaar se wenners van die HTA (Hexvallei Tafeldruifvereniging) se jaarlikse blokkompetisie is op 29 Januarie 2016 by die gesellige blokkompetisie-funksie bekend gemaak. Die blokkompetisie word jaarliks aangebied;  produsente skryf hulle beste wingerdblokke in vir die kompetisie en dit word dan deur ‘n onafhanklike paneel tafeldruifdeskundiges beoordeel.

Die aand se gasspreker was Piet Karsten, stigter en voorsitter van die Karsten-Groep en huidige Suid-Afrikaanse Boer van die Jaar.  Sy boodskap was ‘n sterk beroep op leierskap en versoening binne die Landbousektor.  Die funksie word altyd by die Ledeklub in De Doorns aangebied en dit is ‘n jaarlikse hoogtepunt vir die plaaslike gemeenskap. Vanjaar se funksie was weer hoogs suksesvol en dit is moontlik gemaak deur die goeie borgskappe vanaf diensverskaffers in die plaaslike tafeldruifbedryf.

Vanjaar se wenner in die Gevestigde Blok-afdeling van die kompetisie was Pierre van Zyl van           WK Beukes Boerdery,  De Modderdrift met ‘n Sugra 16 (SABLE SEEDLESS®) wingerdblok. In die tweede plek was Niel Anderson van De La Haye met ‘n blok Crimson Seedless.  In die derde plek was Mario Coetzee van Villion Farms (Nirvana) met ‘n blok Sundance. In vierde plek was Marno Bothma van De Vlei Boerdery (Matrooskloof) met ‘n blok Sugra 16 (SABLE SEEDLESS®) en in die vyfde plek was Kosie Meissenheimer van De Vlei Boerdery (Tevredenheid) met ‘n blok Sweet Celebration™.

Die wenner in die Jongblok afdeling van die kompetisie was Marno Bothma van De Vlei Boerdery       (Matrooskloof) en dit was vir ‘n blok Sweet Globe™. In die tweede plek was Leon Nel van Villion Farms (Prosper Fair) met ‘n blok Sweet Sapphire.™ In die derde plek was Niel Bothma van Cape Orchard Company (Idlewinds) met ‘n blok Crimson Seedless.  Die pryse is deur HTA Voorsitter Anton Viljoen (Jnr) oorhandig.

Johan Hugo van PPECB was die hoofbeoordeelaar van die kompetisie en hy is bygestaan deur Hein Koch van Tesco (Suid-Afrika), Chris Potgieter van DOLE en Deon Coetzee van Villa Crop.  Voordat die wenners aangekondig is, het Johan Hugo aan die gehoor die kriteria vir beoordeling verduidelik.

Vanjaar se kompetisie is ook besonders omdat dit die veertigste bestaansjaar van die kompetisie is. Dit was ook ‘n spesiale geleentheid omdat Guillaume (Gillie) Rossouw,  die kompetisie se heel eerste wenner in 1976, die geleentheid vanjaar kon bywoon.  Die HTA Voorsitter Anton Viljoen (Jnr) het ook ‘n spesiale toekenning aan hom oorhandig. Die kultivar van sy wenblok in 1976 was Salba wat nie meer kommersieël verbou word nie.

Die doel van die kompetisie is om vir produsente ‘n kans te gee om optimale produksiemetodes en die oes opbrengstes wat hierdeur behaal word uit te wys.  Die kompetisie gee vir produsente en hul bestuurders die geleentheid om hul produksievernuf  te demonstreer en ook om die tegniese kennis oor suksesvolle produksiepraktyke te deel. Onderlinge kompetisie en vriendelike wedywering is tussen die deelnemersis aan die orde van die dag terwyl hulle meeding vir hierdie besonderse eer. Die aantreklike pryse wat jaarliks aangebied word sorg ook vir verdere aansporing.

 



Back